Wednesday, June 17, 2009

7de Laan-paartjie ‘oe’ en ‘aa’ oor Mischa se nektar

Diaan, Rachel, Andrew en Jody tydens die wynproegedeelte van die besoek aan Mischa.

Koning Edward VII van Engeland het gesê dat mens nie net wyn drink nie; jy ruik dit, kyk daarna, proe dit, sluk dit ... en gesels dan daaroor.

En dis presies wat ons gedoen het die dag met die besoek aan die Mischa-wynlandgoed daar by Wellington. Dis nou jors troelie, die bekende televisie- en verhoogkunstenaars Jody Abrahams en Diaan Lawrenson, en Andrew Barnes, die wynmaker van Mischa.

O ja, Andrew se broer Gary en sy verloofde Rachel Carrigan was ook daar om die dag ‘n wonderlike ervaring en herrinnering te maak.

Maar eers so ietsie oor Mischa (021-864-1020). Hierdie pragtige landgoed aan die voet van die Groenberg met sy panoramiese uitsigte op die Hawekwaberge in die ooste en die golwende Wellington- en Bergriviervalleie so ver as Tafelberg in die suide is een van die drie grootste kwekers van wingerdstokkies in die suidelike halfrond. Sy wyne word onder die Mischa- en Eventide-handelsmerke bemark wat veral bekend is vir shiraz, merlot en cabernet sauvignon. Maar moenie die witwyne wat Andrew nou ook hier maak, vergeet nie!

Wellington is so vyf minute se ry weg, maar die hele omgewing bied jou vele staproetes, bergfietsroetes, roei, swem, perdry en gholf. Daar is selfs ‘n natuurreservaat binne trefafstand.

Die landgoed se naam is afgelei van dié van ‘n Russiese balletdanser, ene Mikael van die Ballet Russe, wat die dansmaat van Andrew se ouma was. Mischa is die Russiese bynaam vir Mikael. Andrew se oupa het die plaas net na die Tweede Wêreldoorlog gekoop, wat van hom die derde geslag Barnes op Mischa maak.

Wat Bacchus se gaste vir die dag betref, geen bekendstelling is nodig nie. Diaan, oftewel Paula van 7de Laan, en Jody, of Donovan van 7de Laan, is ‘n paartjie wat die afgelope ruk gereeld in die kollig was. Ek het Jody die eerste keer gesien in die musiekblyspel Kat en die Kings in die Baxter-teater ‘n hele paar jaar gelede.

Benewens dat die twee kort na ons besoek aan Mischa verloof geraak het, is hulle ook vennote in ‘n restaurant op Villiersdorp, The Dagbreek Restaurant & Museum (028-840-2126) wat glo in kontreikos spesialiseer. Ek en vroulief sal eendag moet deurry soontoe!

Bo: Gary, Rachel, Andrew, Jody en Diaan stel 'n heildronk in op 'n heerlike dag vol wonderlike kos en wyn en heerlike geselskap.

Diaan skat haar wynkennis op 5 uit 10 en sê nadat sy maar altyd rooiwyn gedrink het, het sy nou oorgeskakel na droë wittes, en sy geniet ‘n soetetjie ook terdeë. Dis glo die swael in die rooiwyn wat haar deesdae effens vang.

Jody, wat glo ook baie lief is vir kosmaak en ‘n voorliefde vir Maleisiese geregte en speserye het, reken sy wynkennis net ‘n 4 uit 10 werd. Hy verkies witwyn bo rooiwyn, en veral ‘n lekker sauvignon blanc maak sy knieë lam.

Nadat ons die kwekery besoek en die pragtige natuurskoon gade geslaan en waardeer het, het die wynproe begin. Sewe wyne is geskink en geproe.

Die Mischa Shiraz 2007 het Jody se voete onder hom uitgeslaan en 19 uit 20 op sy telkaart gekry, terwyl die Eventide Viognier 2008 die beste onder die wittes gevaar het, selfs beter as die sauvignon blanc! Dit was sy eerste ervaring van hierdie kultivar en hy was baie verras. Die laagste punte wat hy toegeken het, was ‘n 16½ uit 20 vir die Eventide Shiraz 2006, wat jou wys hoe hy die wyne geniet het.

Diaan het drie wyne 19½ uit 20 gegee, die Eventide Viognier 2008, die Mischa Shiraz 2007 en die Mischa Merlot 2007!

Woorde soos “awesome”, “smooth”, “fruity”, “love it” en “love merlot” het gereeld oor die twee se lippe gerol. Sowel Gary, wat vir die kwekery verantwoordelik is, as Andrew is gepeper met vrae en albei het heelwat wynwyser huiswaarts gekeer.

Maar eers was daar natuurlik die verpligte middagete met die wynmaker en sy geselskap! En nes met hul wyne, het die Barnes-familie nie geskroom om hul beste voet voor te sit nie.

Koedoe Carpaccio is met Eventide Viognier bedien, ‘n hoofgereg van varkfillet (Mischa Cabernet Sauvignon), hoender-roulade (Mischa Shiraz) en biefstuk (Mischa Merlot) het aldrie van ons stil gemaak, en dis afgerond met ‘n sjokolade-mousse wat saam met Mischa Cabernet Sauvignon geniet is.

Net so terloops, Mischa bied heerlike selfsorgverblyf bo en behalwe stap-, draf en bergfietsroetes, roei en swem, en natuurlik wynproe. Gaan kuier dus gerus bietjie daar.

Wynwiele:

Vir die besoek aan Mischa het Suzuki vir my hul sprankelende en vlugvoetige Swift geleen, die outomatiese weergawe. Ek het tevore die handratmodelletjie bestuur en was baie aangenaam verras met die seepgladde werkverrigting, veral daai ratkas het gevoel of hy sommer vanself die ratte vind, en sy stewige afwerking.

Bo: Gary, Diaan en Jody by Suzuki se vlugvoetige Swift met die wonderlike natuurskoon in die agtergrond.

Nadat ek aanvanklik effe skepties was oor die vermoë van hierdie prettige motortjie met outomatiese ratwisseling, moes ek gou my skeptisisme in my sak steek want met outomatiese ratkas doen die Swift sy naam steeds gestand. En die afwerking sou steeds enige Duitse motorvervaardiger trots gemaak het.

Sowel Diaan as Jody was baie beïndruk met die klein buksie, en hoewel ek groter motors verkies, het ek die Suzuki Swift baie langtand terug gegee. Ek het hom veral in en om die stad geweldig geniet omdat hy rondrits so moeiteloos maak.

Ek dink ek sal een van Andrew se wittes, miskien daai Sauvignon Blanc, met die Swift vergelyk. Jy reken hy’s die moeite werd so op ‘n afstand, dan proe en sluk jy hom, en skielik besef jy hierdie is nie sommer ‘n hierjy nie!

Einde


No comments:

Post a Comment